Fynbos: Wie is ons?


My Ouma Betsie Schoeman, was een van die stylvolste vroue wat ek tot dusver in my 26 jaar hier op aarde teëgekom het. Sy het geweet hoe om te kook, te versorg en lief te hê. Sy het ook geweet van “met ’n ysterhand regeer”, maar kon met ’n teer hand (en ’n stuk koek) die hartseer wegvee. Ouma het geruik soos White Diamonds (White Diamonds ruik soos sy) en jy kon haar deur ’n ring trek. Altyd.

My ouma Betsie is oorlede op die (te jong) ouderdom van 80… long kanker. Kanker is ’n verdomde ding. Hy vat en vat en vat. Jou gesondheid en jou vryheid, soms jou trots en jou menswees… in ouma se gevl het hy gevat wat hy kon, maar haar vrou-wees kon hy nie aan raak nie. Deur die stryd, selfs op haar slegste dae, moes ek Ouma help om grimering aan te sit. Sy wou steeds haar mooiste oorbelle dra. Ek het haar in die laaste paar maande geleer van “wet wipes”… sy wou eers niks weet nie, maar later was sy so opgewonde oor hierdie “handige lappies” waarmee sy haar gesig weer self kon skoonmaak en ek was trots dat ek vir ’n slag vir haar iets kon leer.
My ouma was als wat ek net hoop om eendag te wees… my ouma Betsie is ’n groot rede van hoekom ek hierdie nuwe uitdaging aanpak.
Behalwe dat sy my geleer het van volhard en ’n ding voluit doen, van liefhê en van raakvat, het sy my geleer van vróú wees en dit met trots.

Ons as vroue veg so om as gelyke teenoor mans beskou te word. Ons veg vir ons regte en vir die en vir daai en êrens in daai geveg vir als wat ons dink “trots vrou” is, dink ek gee ons partykeer so iets van ons vrou-wees weg…
Wanneer het vroue bv. opgehou met rokke/ rokkies dra? Wanneer het ons besluit dat dit “koeklik” is om net eenvoudig “mooi” te lyk? Sien, mode is nie altyd mooi nie. Mooi is nie altyd koeklik nie. Sexy is nie altyd stylvol nie, maar stylvol is altyd sexy.

By Fynbos is ons “vreesloos vroulik”. Ons is nie bang of skaam vir emosies en oorreageer en kurwes nie. Ons is vrou en blerriewil trots daarop. Die goed en “die sleg”. Verder glo ons in styl, meer as mode. Ons glo elegansie is tydloos. Ons glo in sagte lap, vroulike patrone en vlyende snitte. Ons glo dat kleredrag wat vroulik en stylvol is, ’n baie sterker indruk maak (en laat) as die nuutste mode wat mense laat koppe draai en verward agterna staar met ’n “oe liewe Heeemel” (soos Ouma sou sê). Ons glo in help mekaar, al sien niemand nie. Ons glo in fyn koppies en fyner onderklere. Ons glo in koek eet en tee drink en giggel en bloos. Ons glo in vrou-wees.

Ons nooi jou uit om by ons aan te sluit.

Fynbos
Vreesloos vroulik.